God se hart is dat alle volke en nasies as Mat. 24 en 25 se “skaap nasies” beskryf kan word

 

Miskien moet jy net weer Mat. 24 en 25 gaan lees om presies te verstaan wat ek bedoel as ek praat van “skaap nasies” en “bok nasies”.

Ja, ek praat van nasies en nie net individue nie, want Jesus se opdrag aan ons is om na die “nasies” toe te gaan en om hulle, die nasies, uiteindelik Sy dissipels te maak, hulle te doop en hulle dan te leer om alles te onderhoud (te gehoorsaam) wat Jesus ons geleer het.

As ons dan praat oor hoe die Koninkryk van die hemel ook moet kom in die markplek, dan moet ons oogmerk en teiken nie net individuele sakemanne en -vroue wees nie, maar dat ons baie verder en wyer moet mik! Ons moet mik om die manier hoe besigheid gedoen word en wat ons daar doen, in ʼn hele land en nasie moet verander!

God se hart was nog altyd dat Sy mense ʼn volk en ʼn nasie moes wees wat ʼn voorbeeld vir die hele wêreld kan wees om vir hulle te wys hoe moet dinge gedoen word sodat dit tot seën kan wees vir almal en alles betrokke.

Gaan lees maar net weer ʼn slag die Ou Testament mooi en fokus op God se plan en roeping vir die Joodse volk, Israel, van die begin af.

In die Nuwe Testamentiese taal van Mat. 24 en 25, God se hart was dat Israel ʼn “skaap nasie” moes wees in alles wat hulle gedoen het en in die manier hoe hulle geleef het.

Onder Dawid was daar wonderlike dinge wat begin gebeur het in die rigting. Ja, en veral sy seun, Salomo, in die jaar 1000 v.C., het dit byna reggekry.

Onthou jy, hoe die hele wêreld na Israel begin stroom het om te kom kyk en om hulle te verwonder aan die seën van God wat oral sigbaar was in daardie land onder sy bewind!

Toe word Salomo egter maar net nog ʼn prooi van vlees en lus! Ja, en uiteindelik, in plaas van getrou wees aan net een vrou, het hy 700 vroue en jy ken die treurige uiteinde hiervan in sy gesin en lewe; om nie eers van sy kinders en nageslag se treurige verhale te praat nie!

Kom ons probeer prakties te wees en om vir mekaar te probeer wys hoe lyk ʼn “skaap nasie” dan en hoe doen hulle besigheid in die markplek.

Hiervoor hoef ons maar net te kyk na die Laaste Vraestel en die vrae wat gevra gaan word daardie laaste Eksamen met die Finale Oordeelsdag.

Luister ʼn bietjie na die vrae, soos wat Mat. 25:31 e.v. dit vir ons beskryf.

Ek wonder wie van julle raakgesien het dat die “bok nasies” nie hulle eksamen dop omdat hulle in die eerste plek hulle skuldig gemaak het aan ʼn klomp misdade van allerlei aard nie! Nee, hulle is geoordeel omdat hulle NIKS gedoen het nie!

Presies dieselfde gebeur in die gelykenis oor die talente of Minas ook: die persoon wat geoordeel word, is die een wat NIKS gedoen het nie!

Daarom is dit vir my so erg as almal rondom my kla en sleg praat oor die regering en oor skelm sakemanne en vroue in die besigheidswêreld, maar nie een van hulle begin om iets te doen om dinge te verander of anders te doen nie!

Daarom het ek my begin skaar by die groep wat begin opstaan en wat sê genoeg is genoeg, maar wat dan ook sê, kom ons begin om dinge te verander en anders te doen! Kom ons begin dinge doen en kom ons begin om dinge reg te maak!

 

 

'N TWEEDE VIDEO AAN DIE DAGBESTUUR VAN DIE FGG

Verlede keer het ek julle vertel van my video-uitnodiging aan die Dagbestuur van die Familie van Gereformeerde Gemeentes wat gekies het om hulle los te maak van die besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk.

Intussen het hulle gereageer en ek het beleef die Here wil hê dat ek 'n tweede video-gesprek met hulle moet aanknoop.

Hier is die skakel op YOUTUBE daarna toe.

https://youtu.be/DE31aspBYoE

As jy belangstel in 'n volledige transskripsie van die video, epos my asb.

Bid asb vir hierdie gesprek.

Baie van julle, soos ek, het ook in hierdie deel van die Liggaam van Jesus opgegroei en groot geword. En baie van ons geliefdes is nogsteeds deel daarvan. Daarom raak dit wat hier moet gebeur, ons direk!