Nou wie is werklik ʼn skaap-nasie?

 

Miskien het ek te vinnig oorbeweeg van ons oordenking van Gal. 2:19 en 20 na hierdie tema.

Sien, ek moes eers iets meer in detail verduidelik het.

Ek moes eers vir jou gewys het wat ek ontdek het oor wat dit beteken om gekruisig en begrawe te wees saam met Christus, maar NOU OOK OPGESTAAN HET IN EN SAAM MET CHRISTUS!

Want as ek dit nie verduidelik nie, gaan ons “skaap nasies” verkeerd interpreteer! Ons gaan aan “nasies” dink soos wat ons al die jare aan “Afrikaners” gedink het voor ons bekering.

Want al is en bly ek en jy Afrikaners, omdat ons eerstetaal Afrikaans is, is ons nou bekeerde, geredde, weergebore Afrikaners wat deel is van ʼn nuwe soort “skaap nasie” van Afrikaners! Sien , nou het ons deel geword van Afrikaners wat deel geword het van die Ekklesia van Jesus Christus!

Hoe sê die Heilige Gees deur Paulus vir ons in die volgende verse in die Bybel:

Rom. 10:12 – “... Dit maak dus geen verskil of ʼn mens ʼn Jood of ʼn Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik...”

1Kor 12:13 – “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.”

Ga 3:28 – “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”

Kol 3:11 – “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.”

Verstaan jy wat God se Gees besig om hierdeur vir ons te sê?

Daar het iets merkwaardig met ons gebeur toe God deur die Heilige Gees ons wederbaar het toe ons Jesus aangeneem het as Verlosser en Here.

Ons het werklik nuut geword. Ons is werklik weer ’n slag gebore, maar hierdie keer gebore as ’n nuwe mens.

Ja, ek bly steeds Afrikaner. Maar nou verstaan ek dit totaal anders. Want ek het deel geword, as deel van ’n nuwe skaap nasie, van die ware Bybelse Ekklesia, die volk van God.

Want Christo, die Afrikaner, is saam met Christus gekruisig en begrawe. En ’n nuwe Christo het saam met Christus Jesus opgestaan, wat nou ook ’n nuwe soort Afrikaner is, waar dit nie meer van belang is of hy ’n Afrikaner of ’n Griek of van watter ander nasie en volk hy voor sy dood was nie. Want hier is Christus in ons, alles en in almal van ons wat nou deel is van die Ekklesia!