Hou jou oë oop vir die simptome van ʼn siek, Mammon-gedrewe markplein

 

Hou jou oë ook oop vir die simptome van ʼn siek, Mammon-gedrewe markplein en gemeenskap!

Raak bewus van daardie onreg en gierigheid wat werkloosheid veroorsaak, en armoede, en wat veroorsaak dat mense hulle huise en woonplek verloor.

Raak bedag dat daar redes is waarom mense op straat beland en waarom soveel kinders en jongmense sonder ʼn pa of ʼn ma groot word, en waarom geweld onder vroue en kinders aan die orde van die dag is in sovele huise en gemeenskappe.

Kan jy glo dat die meeste van ons deur ons belasting wat ons betaal, in lande waar aborsie deur wetgewing goedgekeur is, in ʼn sin aborsies finansier!

Daarom is die Here God oral oor die wêreld besig om Sy mense op te roep om op te staan en om prosesse aan die gang te sit wat hierdie onreg kan stop sit!

Daarom kan ons nie net kla daaroor nie, maar moet ons begin om iets daadwerkliks daaraan te doen!

Daarom kan ons nie vrede hê waar die ekonomie, en banke, en praktyke in die markplek, veroorsaak dat mense in onhanteerbare skuld begin verval nie.

Dink maar net aan wat in gesinne gebeur waar hulle skuldlas onhanteerbaar geword het. In baie gevalle lei dit tot spanning in huwelike en gesinne. Wat weer kan lei tot geweld, verbrokkeling van huwelike en families. Wat weer kan lei tot misdaad, en herhaaldelike tronkstraf.

Het jy geweet dat 44% van alle eks-gevangenes, binne twee jaar nadat hulle vrygelaat is, weer terug is in die tronk?

Dan het ek nog nie eers gepraat oor al die trauma, dwelm- en alkoholmisbruik en alles wat daarmee gepaard gaan nie.

Hoeveel manne, vroue en selfs kinders beland nie op die straat en begin bedel omdat hulle die dak oor hulle kop of werk verloor het nie?

Ek wonder of jy weet dat selfmoord die grootste moordenaar onder mans tussen 17 en 35 in Australië is.

Ek wonder hoeveel jong kinders word elke dag verkoop of verslaaf as gevolg van finansiële tekorte in gesinne.

In die Woord lees ek dat ons God bekend staan as die God wat omsien na kinders sonder ouers en wat sonder daardie beskerming moet klaarkom wat ’n gesin en familie hulle moes gee. En ja, dat Sy hart uitgaan na weduwees wat sonder die beskerming van ’n man moet klaarkom.

Dink ook aan al die vroue, jonk en oud, wat hulleself en hulle geliefdes probeer onderhou deur ’n lewe van prostitusie!

Moet ek verder gaan en praat oor al die misdaad en korrupsie, bedrog en selfs politieke tirannie en rassisme, wat plaasvind omdat mense wat in outoriteitsposisies verkies is, nie doen wat God bedoel het hulle moet doen nie, maar dit gebruik as ’n geleentheid om hulleself en ander te verryk.

O, hoeveel leë beloftes is daar nie oor die jare gemaak deur politici op openbare verhoë om die lewe van jan alleman op straat beter te maak nie!

Het dit nie tyd geword dat elke gelowige volgeling van Jesus ook by die stembus ambassadeur van ’n koninkryk van die hemel op aarde sal begin word nie! Ja, dat ons onsself sal begin afvra: Vir wie sou Jesus in my, hier stem?

Kan jy dink wat kan begin gebeur as die “konings” in die besigheidswêreld, in diens van die koms van die Koninkryk, begin om hulle geld en invloed te laat geld wanneer hulle met die regering en politici begin gesels! (Geen politikus kan klaarkom sonder die finansiële steun van die sakewêreld nie!)

Dit het tyd geword dat ons begin aandring op verandering in die waardes en kultuur wat ’n bepaalde politikus en politieke party propageer. Want hierdie waardes en kultuur is immers die fondasie vir enige beleid en wetgewing wat gaan volg.

Het Jesus nie gepraat oor hoe ons soos sout moet wees in die samelewing, die markplek en selfs in die politiek nie!

Gaan wees sout daar waar die Here vir jou outoriteit en sê gegee het om dinge te kan verander rondom jou. Sodat God se Naam geheilig kan word. Sodat die Koninkryk kan kom en Sy wil kan geskied. Hier op aarde soos in die hemel.