Alle koninkryke moet uiteindelik buig en platgevee word deur God se Koninkryk

 

Kom ek haal hier ’n paar verse aan wat my elke keer aangryp as ek dit lees. Dit staan in 1 Kor. 15:23 tot 27.

“Maar daar is ‘n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort.

Daarna kom die einde, wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra, nadat Hy elke mag, elke gesag en krag vernietig het.

Hy moet as koning heers totdat die Vader al sy vyande aan Hom onderwerp het.

Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Daar staan immers geskrywe: ‘Alles het Hy aan Hom onderwerp.’”

Hoor jy, dit is presies soos wat ons Here en Koning, Jesus, ook daar in Rom. 14:11 sê:

“So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.”

As jy mooi gaan lees wat in albei hierdie gedeeltes in God se Woord staan, is dit duidelik dat hier nie net van ’n werklikheid en gebeure gepraat word wat eers aan die einde, met en na die Wederkoms van Jesus, gaan plaasvind nie. Nee, hier word van gebeure gepraat wat nou al hier rondom ons aan die gebeur is.

Oral waar mense en magte hulle knie voor Jesus as die Koning en Sy heerskappy buig en dit met hulle tong bely, ja, bely dat Hy Verlosser en Here en God is, daar gebeur hierdie woord voor ons oë hier op aarde reeds.

Daar waar ek en jy, in die Naam van Jesus, stukkendheid, seer, onreg, noem maar op, bedien en sien hoe Jesus dit verander, sien ons iets van die Koninkryk van God voor ons oë gebeur.

Ja, die Heerskappy en Koninkryk van Jesus gebeur eintlik in ’n dimensie en werklikheid waar ons nie dit kan sien gebeur met ons gewone oë nie, maar wat ons wel kan sien en ervaar, is die resultate en gevolge daarvan.

Om te probeer illustreer wat ek hier sê, hoef ons net na die lewe en werk van Jesus hier op aarde te kyk. Elke wonderwerk wat Jesus gedoen het, elke siek mens wat gesond geword het, elke blinde mens wat weer kon sien, elke dooie wat opgestaan het, elke keer wat brood en vis meer geword het sodat almal wat honger was genoeg kon eet, het iets van wat Koninkryk van God beteken, voor ons oë sigbaar geword (gemanifesteer).

Maar dit wat ons sien en ervaar, is maar net ’n klein stukkie, ja, selfs net ’n skadu van wat die Koninkryk van God werklik daar waar ons nie kan sien nie, in werklikheid is.

Daarom sê God self deur Sy Gees, daar in Rom. 14:17:

“Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.” (OAV)

Die NAV vertaal dit so: “Die koninkryk van God is nie ‘n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee.”

Die Koninkrk van God, die Koningskap van Jesus, dat Hy reeds die nuwe Koning is en reeds heers ook hier op aarde, is ’n werklikheid, maar ek en jy sien net hier en daar sprankies, refleksies, manifestasies daarvan midde ons gebroke wêreld. Maar as ons mooi kyk, sien ons reeds die gevolge daarvan.

Ons kan reeds hier rondom ons mense wat hulle hele lewe verslaaf en gevangenes was, sien vry word. Ons kan siekes sien wat gesond geword het. Ons kan honger mense sien wat gevoed is en wie se dors geles is.

Maar tog, al sien ons reeds in die hier en nou iets van die Koninkryk van God rondom ons deurbreek, weet ons dat die Koninkryk van God baie meer is as dit.

Ja, dat daar altyd hierdie stuk spanning sal wees tussen dit wat ons in die hier en nou beleef, of verwag om te gebeur, en dit wat ons weet nog op pad is en vorentoe wag.

Ja, dat daar ’n kant is van die Koninkryk van God wat nie nou al, in die hier en nou, kan gebeur en deurbreek nie! Soos wat genesing reeds in die hier en nou in ons fisies-chemiese liggaam wonderbaarlik kan gebeur, weet ons, gaan hierdie fisies-chemiese liggaam, êrens vorentoe, tog sterf en vergaan, want hierdie fisies-chemiese liggaam van ons is steeds maar net ’n tent wat bedoel is vir die hier en nou hier op aarde. Voorkant toe moet dit padgee, vir die nuwe verheerlikte liggaam wat God vir ons bedoel het wanneer ons die volheid gaan beleef en ingaan in Sy volle, heerlike Koninkryk.

Met ander woorde, die Koninkryk van God en van Jesus, is ’n werklikheid reeds nou, maar nie in sy volheid en volle heerlikheid nie, want ons en ons liggaam en fisiese wêreld rondom ons, kan nog nie dit vat en hanteer nie.