Dit is werklik ʼn ontdekkingsreis met Jesus waarmee ons besig is

 

Kan jy dink wat kan gebeur as gelowige volgelinge van Jesus, wat in Hom glo en Hom liefhet, daar waar Hy hulle geposisioneer het, in die markplek, of daar in hulle boerdery, of besigheid, of universiteit, of kollege, of skool, of waar hulle woon en tussen hulle vriende, maar net begin doen wat God vir hulle aansê om te doen.

Kom ons gaan sit weer elkeen net met God se Woord, die Bybel, op ons skoot, en begin om net prakties te doen wat Sy Gees ons dag vir dag leer om te doen.

Kan jy dink wat gaan gebeur as ons elke dag begin om te bid soos Jesus ons geleer het om te bid:

Ons Vader,
Laat U Naam geheilig word.
Laat U Koninkryk kom.
Laat U wil geskied, hier rondom my en deur my, hier op aarde waar U my geposisioneer het, sodat dit ook hier kan lyk soos wat dit reeds in die hemel is.

En kan jy dink hoe sal dit dan begin lyk daar in jou huis en familie. En in die gemeenskap waar jy woon; of daar by die werk en in jou besigheid, of op jou plaas.

God het vir ons gesê aan die begin van hierdie jaar dat ons in ’n nuwe seisoen ons bevind. Maar nie net maar weer net nog ’n nuwe seisoen nie, maar ’n nuwe seisoen wat iets soos ’n Grand Finale gaan wees.

Kan jy dink hoe gaan Suid-Afrika, of die land waar jy tans jou bevind, lyk as die Koninkryk van die hemel hier tussen ons sigbaar word!

Dit is mos niks anders as sosiale transformasie en herlewing wat ons voor ons oë dan gaan sien gebeur nie...

Dit is mos hoe dit lyk daar waar Sy Koninkryk kom, Sy wil geskied!

Met ander woorde, elke keer wat ons die gebed bid wat Jesus ons geleer het, in hierdie Grand Finale-seisoen waarin ons is, bid ons dus nie net dat dit in ons eie lewe en eie familie sal gebeur nie! Nee, ons bid ten minste dan ook vir die land en die nasie waarvan ons deel is, dat hierdie land en hierdie nasie een van dié sal wees aan die einde, soos Jesus daar in Mat. 25 dit verduidelik het.

Ja, dat ons ook een van daardie lande en nasies sal wees wat onder die “skape” gereken sal word. Omdat hier ʼn ander kultuur begin heers het, met ander waardes. Waar mense vir mekaar begin omgee en sorg het; waar mense geleentheid het om te ontwikkel en voorspoedig te wees; waar daar nie vrees is nie; waar daar nie gulsigheid en selfsug is nie; waar daar nie korrupsie heers nie.

Dit kan net gebeur as die Ekklesia, elke gelowige volgeling van Jesus, wakker skrik, die Bybel gryp en tyd maak om te gaan sit en te luister of hulle nie God self met hulle hoor praat elke dag nie.

En as Hy dan praat, dan opstaan en onmiddellik, onvoorwaardelik, gaan doen wat Hy gesê het hulle moet doen.