Vertaal dit wat jy by God hoor, in ʼn taal wat die mense verstaan

 

Ek is besig om met net die Bybel op my skoot, my te probeer voorstel hoe gaan dit lyk in ʼn land waar Mat. 24 en 25 begin gebeur omdat God se mense opgestaan het en begin doen het wat God sê.

Want dit is natuurlik die eerste stap: Ons moet self begin doen wat ons hoor die Here vir ons sê om te doen!

Kan ek jou vra: Het jy al daardie keuse in jou lewe gemaak? Om elke keer as jy die Here iets hoor sê onmiddellik en onvoorwaardelik te begin doen wat Hy vir ons aansê om te doen.

Die volgende tree is natuurlik om ook met ander rondom ons te begin praat oor wat ons by die Here self gehoor het.

Lyk vir my dit sal beteken dat ons dit wat ons gehoor het by die Here, moet vertaal in ʼn taal wat die mense rondom ons verstaan en praat.

Dan kan ons nie maar net probeer om Bybelverse aan te haal en om dinge op ʼn kerk-manier te sê soos ons by ons pastoor of dominee of geestelike leier dit gehoor het nie.

Dan kan ons ook nie net met die simptome van die siektes om ons handel nie. Nee, dan sal ons God se Gees moet vertrou om aan ons die wortels te wys van die siektes wat ons nou rondom ons sien, wat soveel verwoesting in mense se lewens veroorsaak.

Neem nou maar net selfsug en gierigheid as ʼn voorbeeld.

Ons moet verstaan dat dit nie gaan help om al die multimiljoenêrs en biljoenêrs in die wêreld aan te sê om ten minste 10 tot 80 persent van hulle “wealth” te begin weggee aan die “armes” nie. Nee, want die wortelprobleem is baie dieper as dit. Ons moet verstaan dat ons daarbuite met ʼn Babiloniese sisteem te maak het waar ʼn bose gees, Mammon, in beheer en die god van is. Want dit is daardie gees wat mense belieg en bedrieg dat hulle dink dat alles net oor self gaan en oor hoe om die maksimum vir jouself daar uit te haal.

Ja, dat hierdie gees se mag in ons lewe gebreek word wanneer ons hoor hoe Jesus met elkeen van ons hieroor begin praat. En hoe Hy vir ons sê: Maar Ek sê vir jou: Bekeer jou, want die Koninkryk van God is ook nou hier… Om jou lewe, jou besigheid, jou familie, jou huwelik en jou geldsake nou te kom verander!

Eers as ek en jy, in ons eie persoonlike lewe, weer 1 Joh. 1:9 hoor en gehoorsaam, wat vir ons sê:

Maar as ons ons sondes bely-Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

En vers 10 wat sê: “As ons beweer dat ons nie gesondig het nie, maak ons Hom tot leuenaar en is sy woord nie in ons nie.”

Ja, dit geld ook vir jou!

Want eers as dit by ons persoonlik begin, en hierdie transformasie my en my hele lewe begin verander soos wat God se Gees my begin lei om te verander, kan God my gebruik om rondom my verandering te bring.

Ons het nodig om dinge anders te begin doen. Dit is mos hoe ware berou en bekering werklik lyk. Dit is om dinge anders te begin doen nadat ons ontdek het wat die Koning van die Koninkryk wil hê. En dit lyk anders as wat ek nog al die tyd dit gedoen het.

As ons dit ook in die markplek prakties begin doen, gaan mense rondom ons dit proe en ervaar. Hulle gaan ontmoetings met ʼn lewende God daar hê en hoor hoe Hy ook met hulle praat. En dit gaan hulle ook tot bekering laat kom.

Daarom moet ons ons stories begin vertel oor hoe dit in ons eie lewe gebeur het en hoe dit ons lewe begin verander het. Ons sal moet begin vertel wat ons gehoor het Hy sê en hoe Hy ons Sy waardesisteem begin leer het, en ons geleer het hoe om dit prakties toe te pas in die markplek. Maar ook watter seën dit dan tot gevolg gehad het toe ons dinge begin doen het op Sy manier en in gehoorsaamheid aan Sy stem en dit wat Hy ons geleer het.

Daar waar ons die Goeie Nuus oor God se Koninkryk wat hier op aarde kom, prakties begin leef en leer daar op die markplein, gaan mense die verskil sien en gaan hulle begin vra: Maar hoekom doen jy dinge so? Wat is die redes daarvoor?