Kyk na Moses

 

Ek is besig om met jou te gesels oor hoe ek en jy kan uitvind waar pas ons in God se groter prentjie van die koms van Sy Koninkryk hier op aarde in.

Ek het jou laat kyk na jou baie spesifieke S-H-A-P-E daar aan die voete van Jesus terwyl jy Hom biddend vra wat Sy plan en wil vir jou hier op hierdie aarde is.

Gaan lees miskien net weer die vorige gedeelte as jy dalk nie meer kan onthou waarvoor die akroniem, SHAPE, staan nie.

Hierdie keer wil ek jou herinner aan Moses.

Onthou jy hoe die Here gesorg het vir hierdie klein Joodse seuntjie, in ’n tyd wat die Egiptiese Farao opdrag gegee het dat alle Joodse seuntjies wat gebore word, dood gemaak moet word. Maar God, in Sy genade, het as deel van Sy plan vir hierdie seuntjie, gesorg dat hierdie Joodse seuntjie in die paleis van die Farao saam met sy eie seun sou opgroei en dat hy die beste opleiding sou kry wat in Egipte moontlik was. Want, as deel van God se plan, wou Hy hierdie Joodse seuntjie jare later terugstuur na die Egiptiese Farao om Sy Joodse volk uit Egipte te lei.

Onthou jy ook wat Moses se reaksie was toe God dit vir hom daar in Eksodus 3 gesê het hoe Hy hom wil gebruik?

Laat ek sommer dadelik jou waarsku dat wanneer die Here aan jou gaan wys wat Hy deur jou wil doen, gaan jy ook heelwaarskynlik soos Moses daar in Eksodus 3 voel. Dat dit onmoontlik is en dat jy nie goed genoeg of nie in staat is om dit te doen nie.

God se opdrag in ons lewe sal altyd hierdie element hê van ‘n “Mission Impossible”! Ja, jou opdrag, van die begin af, sal voel soos onmoontlik en dat jy nie die regte een daarvoor is nie.

Maar dit is wanneer jy jouself daaraan moet herinner dat as dit werklik God is wat jou wil stuur en wat vir jou hierdie opdrag gegee het, sal Hy sorg dat alles daar sal wees wat jy mag nodig kry.

Natuurlik nie reg van die begin af nie, maar op Sy tyd sal alles stuk vir stuk, soos jy dit nodig kry, in plek val!

Soms gaan dit eers van jou ’n geloofstap kos, waar jy moet waag om uit die boot te klim en om in geloof eers op water te loop. En as jy werklik God se stem gehoor het wat gesê het jy moet uit die boot klim, sal Hy altyd daar wees, selfs wanneer jy in ongeloof begin sink!

Maar laat ek jou ook sommer waarsku: Die vyand is altyd daar en hy gaan golwe maak en alles probeer om jou ou vlees te oortuig dat dit nie nou die tyd is om uit die veiligheid van ’n boot te klim nie!

Maak jy dus asseblief net seker dat jy werklik God se stem gehoor het en dat jy ’n woord van God het waarop jy in geloof kan staan as die golwe rondom jou rof begin raak. Want as jy ’n woord van God vir nou het, kan jy verseker wees: ons God is ook die God wat belowe dat Hy jou nou sal beskerm en dat Hy in Sy getrouheid alles sal voorsien wat jy nou mag nodig hê. Ja, Sy genade is altyd daar vir jou en altyd genoeg!