Kyk ook na Josef!

 

Onthou, ons is besig om te gesels oor hoe God elkeen van ons kan en wil gebruik in Sy groter plan van Sy Koninkryk wat hier op aarde moet kom.

Vandag wil ek jou na Josef en sy verhaal laat kyk om jou te bemoedig in God se besig-wees met jou.

Gaan en gaan lees net weer die verhaal van Josef daar in Genesis 37 tot hoofstuk 50.

In hierdie verhaal gaan jy lees hoe God met hierdie Josef deur drome gepraat het en so vir hom Sy plan met sy lewe gewys het.

Uit Josef se verhaal wil die Here ons ook leer om nie toe te laat dat moeilikheid, uitdagings en omstandighede rondom ons, daardie droom vernietig wat in jou hart is. Nee, klou vas met alles wat jy het aan daardie woord of beloftes wat jy weet van God af kom vir jou!

Laat die verhaal van Josef jou help besef dat daar soveel ander is wat regtig op jou en die spesifieke rol wat jy moet speel, reken. Jy, ja, jy, soos ‘n Josef, is ’n sleutel-speler in God se groter plan, en baie mense se heil is van jou en jou gehoorsaamheid afhanklik!

Onthou jy nog wat alles met ’n Josef gebeur het?

Hoe sy eie broers, uit jaloesie, en omdat Josef dalk te vinnig met die mense om hom begin praat het oor wat God vir hom gewys het, hom eers wou doodmaak en toe uiteindelik, aan vreemdelinge verkoop het soos ’n mens met ’n slaaf gedoen het destyds.

Maar ook hoe Josef uiteindelik in die tronk beland het, net omdat hy getrou wou bly aan God en Sy Woord!

Ja, dit kan ook met jou dalk gebeur!

Maar dit is ook wanneer jy moet onthou hoe God, soos Rom. 8:28 vir ons in die Nuwe Testament belowe, juis daardie soort gebeure omdraai tot ons beswil en om Sy groter plan met ons te laat gebeur!

Dit is deur sulke gebeure wat ons moet onthou dat ons grote God in die detail van gebeure besig is. Hy word deur niks verras nie en Hy sorg dat Sy beloftes aan ons, en Sy groter plan met ons, in die detail sal en kan gebeur!

Moet dit nooit vergeet nie!

Bly jy maar net vashou aan die woord en belofte wat die Here aan jou gegee het!

Dit wat God beplan het en wat Hy sê, staan vas! Daarop kan jy reken!

Dit is en bly die enigste ware anker en rots van veiligheid in enige storm!