Kyk net weer na Jesus!

 

Ons is besig om met die Bybel op ons skoot na te dink oor hoe God elkeen van ons wil en kan gebruik in Sy groter plan.

Vandag wil ek hê ons moet net weer na Jesus gaan kyk!

Onthou, wie Hy was in God se groter plan! Hy was die Een wat moes kom om die Klip of Rots te wees wat Daniël reeds in 430 v.C. gesien het (in Daniël 2:34 e.v.), wat God vir hom gewys.

Soos Daniël reeds profeties gesê het, sou die God van die Hemel ‘n Koninkryk hier op aarde kom oprig wat nooit (het jy gehoor? Nooit!), vernietig sal word nie!

Daarom moes Jesus, God wat mens geword het, van die begin van Sy lewe hier op aarde, al die ander koninkryke wat nog hier in beheer was en wat mense se lewens hel gemaak het, uitdaag!

Kyk ons na Jesus se bediening, veral in daardie laaste 3 jaar van Sy lewe op aarde, sien ons hoe Hy in Palestina hierdie nuwe Koninkryk van die Hemel se koms begin proklameer het en hierdie nuwe Kultuur wat met hierdie nuwe Koninkryk se aanbreek gepaard gegaan het, begin uitspel het vir almal om te hoor.

Ja, ons hoor reeds hoe Hy as ‘n 12-jarige seuntjie, daar by die tempel, vir Sy aardse ouers sê: Ek is hier om My Vader se besigheid hier te kom doen!

Omdat besigheid altyd ook belange behels, was dit wat vir Sy Vader van belang was, van nou af, vir Hom belang-rik!

Daarom het Hy begin om daardie belange uit te spel en om daardie belange in die midde van ’n totaal verworwe en korrupte kultuur uit te leef!

Kan ek jou vra: Wat moet jy begin aanspreek en waarmee kan jy nie vrede hê nie as God se Koninkryk en Sy belange daarrondom jou, voorrang in jou lewe bo jou eie belange, moet hê?