As God die deure vir die hel oopmaak ... (Deel 2)

 

Ons is besig om met mekaar te gesels oor die genesende krag van vergifnis in die lewe van ’n mens.

Natuurlik is hierdie Woord oor vergifnis van betekenis en van waarde vir elke mens, maar in die besonder vir ons wat onsself kinders van God en volgelinge van Jesus noem.

Verlede keer het ons gesels oor wat daar in vers 12 van Mat. 6 staan as Jesus ons leer om elke dag te bid: Vader, vergeef my my sonde SOOS wat ek diegene wat teen my sondig, vergewe!

Kom ons blaai hierdie keer na Mat. 18 en lees van vers 21 tot 35 wat Koning Jesus hier oor vergifnis te sê het.

Die sleutel en fokus van hierdie gedeelte is natuurlik dit wat daar in vers 34 en 35 staan, naamlik:

“Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.

So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Hoor jy wat sê Koning Jesus wat gaan God die Vader doen met elkeen van ons wat nie elke persoon elke wond of onreg wat hulle in jou lewe veroorsaak of gedoen het, VAN HARTE VERGEWE nie?

As jy nie elke persoon van harte vergewe vir elke wond of onreg wat hulle in jou lewe gedoen of veroorsaak het nie - al is jy Sy kind en verlos in Christus Jesus – gaan die Hemelse Vader, soos hierdie koning, ruimte maak vir “martelaars”, “folteraars”, “the torturers” in Engels, om jou lewe in te stap. En dan gaan hulle (hierdie “torturers”) dit letterlik hel in jou lewe kom maak TOTDAT jy self betaal het vir al jou oortredinge/skuld!

Ek hoop hierdie woord skok jou ook soos dit my geskok het!

Dit beteken dat as ek en jy sou kies om iemand iets nie te vergewe wat hulle ons aangedoen het nie, die hel letterlik in ons lewe los bars!

Dit is dan wanneer ons belewe hoe, as gevolg van ons keuse om nie te vergewe nie, satan en sy magte kom en ons begin aanval in elke area van ons lewe! Ja, dit is dan wat die hel losbars rondom ons fisiese gesondheid, of ons emosionele gesondheid, of in ons verhoudinge, of in ons finansies, noem maar op!

Sien, onvergifnis is soos ’n kanker wat hier in ons hart begin groei en net groter en groter word, net soos fisiese kanker.

Net soos met fisiese kanker, kry jy hierdie verskillende fases of erger vorms van daardie kanker wat duidelik herken kan word as jy dit eers gediagnoseer het.

Verse soos Ef. 4:31 en 32 teken vir ons die simptome of tekens wat ons kan sien in die lewe van ’n mens wat gekies het om nie te vergewe nie.

Eers is daar net onvergifnis in die hart van so ’n mens, wat dan begin om alles in daardie mens te ontsteek. Naamlik hoe hulle dink, hoe hulle voel, en uiteindelik begin uitmond in wat ons hoor en sien in hulle lewens.

Dan begin ons bewus raak van ’n woede en ’n aggressie in daardie persoon se lewe teenoor mense, maar veral teenoor die mens wat hulle verontreg of verwond het.

Dan volg daar ’n bitterheid in die lewe van so ‘n mens.

En daarna begin dit ook uit daardie mens se mond uitloop, want hulle begin kwaadpraat en ander vertel wat daardie mens (en ander mense) aan hulle gedoen het.

Die volgende fase van onvergifnis is hierdie diepliggende gegriefdheid of gevoel van “resentment” wat duidelik sigbaar word in die woorde en optrede van daardie mens.

En dan volg ’n hatigheid! Ja, selfs suiwer haat wat al hoe meer sigbaar word in daardie mens se lewe en optrede.

Om uiteindelik te verander in wraak, of ‘n wraaksugtigheid, want nou wil jy daardie mens wat jou verwond of verontreg het, terugkry of terugbetaal ten alle koste!

Intussen is die hel duidelik los in jou lewe as gevolg van jou eie keuse om nie te vergewe nie!

Mens van God, hoor die Woord van die Koning! En gaan maak reg! Kies om te vergewe! Soos God in Sy Woord vir jou sê!

Volgende keer gesels ons verder.

(As jy nie solank kan wag nie en wil gehoorsaam wees, gaan na die volgende YOUTUBE- skakel waar jy ’n video sal kry waar ek God se mense oor Bybelse vergifnis bedien het:

https://youtu.be/ITKgew8QYo4?si=0NTe8_YNiw3aY9v4 )