Kom in en beleef die genesende krag van Bybelse vergifnis! (Deel 3)

 

Vandag wil ek God se Woord hieroor aan jou bedien as ʼn prentjie wat ek in my gees hiervan gesien het.

Ek het gesien hoe Jesus self, as Verlosser en Geneesheer, my en jou innooi in Sy spreekkamer! Omdat Hy weet waarmee ons worstel, nooi Hy ons uit om op Sy operasietafel te kom lê en om Hom toe te laat om hierdie wond wat erg ontsteek het as gevolg van onvergifnis, eers deeglik skoon te maak voordat Hy dit kan genees.

Hoor daarom hoe Hy dit vir jou sê:

Laat My toe om deur die werking van My Gees in jou, vir jou al die gesigte te wys van ELKE MENS en ELKE WOND of ONREG wat hulle elkeen in jou lewe veroorsaak of gedoen het.

Vat ’n paar A4-bladsye, en begin die name neerskryf van al hierdie mense wie se gesigte jy daar voor jou sien, van mense wat jy êrens langs die pad gekies het om nie te vergewe nie vir wat hulle jou aangedoen het!

Ja, as dit nodig is om net hulle voorletters te gebruik, doen dit! Sorg egter dat jy ELKE persoon se naam neerskryf wat jou êrens langs die pad verontreg of gewond het.

Soos wat jy hulle name neerskryf, skryf ook langs elke persoon se naam neer hoe daardie persoon jou verwond of verontreg het. Ja, skryf elke wond of onreg neer, want jy het elkeen daarvan nodig as jy daardie persoon Bybels wil vergewe vir wat hulle aan jou gedoen het.

Voel jy die pyn wat jy beleef het tot dit gebeur het? Waar voel jy dit in en aan jou lyf? Hoe erg is dit?

Ek weet dit is ongemaklik. Maar sit net ʼn oomblik daarmee.

Kom raak ook bewus van God, en Sy teenwoordigheid en Sy-by-ons-wees!
Hier is ons veilig! Hier is Sy genade vir ons genoeg! Ja, veral hier waar ons op Sy operasietafel lê sodat Hy hierdie wond van onvergifnis kan behandel en al die kwaad en kanker daarvan in ons lewe kan kom verwyder en ons kan kom genees.

Ja, met die mes van Sy Woord, sagkens, met baie liefde, maar met ʼn beslistheid, met die mes van Waarheid, wil Hy daardie wond kom oopmaak, en so al die kwaad wat daar vergader het, verwyder sodat dit skoon kan wees en volkome kan genees.

Sien, om iemand Bybels te vergewe, kan ons nie bloot ʼn persoon net by die naam vergewe en dink ons het hulle klaar vergewe nie!

Nee, om werklik Bybels te vergewe en vir eens en altyd daarmee klaar te maak, moet ek met elke wond en elke onreg wat daardie persoon in my lewe gedoen of veroorsaak het, erns maak en daarmee handel.

Dit is hier waar ons net weer 1 Joh. 1:9 moet lees en moet erns maak oor hoe ons ons sondes by die naam moet bely, sodat God ons daardie sondes kan vergewe.

Hoor die Woord van die Here, mens van God!

“Maar as ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Hierdie vers leer ons dus hoe ek en jy, as God se mense, wanneer ons deur God se Gees bewus gemaak word van spesifieke sondes in ons lewe as God se kinders, ons daardie spesifieke sonde na God toe moet neem, en daar in Sy teenwoordigheid volle verantwoordelikheid daarvoor moet neem. Daarom moet ons dit dan spesifiek bely as sonde en as ongehoorsaamheid wat Sy hart gebreek het en Hom verontreg en gewond het.

Dan kan ons Hom dank vir Jesus Christus wat ook aan die kruis vir hierdie sonde reeds betaal het en die straf daarvoor reeds vir en namens ons gedra het.

Daarom kan ons Hom nou regtens vra om ons ook hierdie sonde te vergewe.
Soos 1 Joh. 1:9 belowe, vergewe God ons dan onmiddellik en belowe om dit nooit weer teen ons te hou of selfs te onthou nie.

Meer as dit: Hy onderneem selfs om enige “ongeregtigheid” wat as gevolg van daardie sonde sou ontstaan het of ons lewe “ingestap het”, te verwyder en ons selfs daarvan en die gevolge daarvan te verlos en te genees!

Verstaan jy nou waarom ons met elke wond of onreg moet handel, as ons werklik Bybels iemand daarvoor wil vergewe? Volgende keer gesels ons verder.

(As jy nie solank kan wag nie en wil gehoorsaam wees, gaan na die volgende YOUTUBE- skakel waar jy ’n video sal kry waar ek God se mense oor Bybelse vergifnis bedien het:

https://youtu.be/ITKgew8QYo4?si=0NTe8_YNiw3aY9v4 )