Wat as ons kies om nie iemand te vergewe nie? (Deel 5)

 

Onthou wat Koning Jesus aan ons gesê het oor wanneer ek en jy as kinders van die Vader, sou kies om nie mense die wonde of onreg te vergewe wat hulle in ons lewe gedoen of veroorsaak het nie.

Mat. 18:34 en 35

“Die koning was woedend en het hom oorgegee om gemartel te word totdat hy al die skuld betaal het.

So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”

Jou keuse om nie te vergewe nie, veroorsaak dat jou Hemelse Vader as gevolg van daardie sonde in jou lewe, in jou lewe hier op aarde - ja, hier op aarde reeds – ruimte moet maak vir die “martelaars” of “folteraars” (“torturers” in Engels om jou te martel (of te “torture”) tot jy jou bekeer en kies om te vergewe!

En verstaan mooi, hierdie “torturers” is niemand anders as magte direk uit die hel nie!

Ek weet nie van jou nie, maar dit laat my broek bewe!

Daarom is my onmiddellike vraag: Hoe gaan jy hierdie “hel” wat los gebars het in jou lewe, herken?

Natuurlik is daar verskeie moontlikhede hoe dit gaan gebeur:

Jy kan dit dalk fisies beleef, in wat in jou liggaam begin gebeur. Of dalk gaan jy dit beleef as iets wat in jou siel, of gedagtes, of emosies, of wil, gebeur. Of dalk gaan die hel êrens in jou verhoudinge met geliefdes losbars. Of selfs in jou finansies, besigheid, of boerdery gebeur.

Verstaan mooi! Dit is nie God se wil dat dit so moet wees nie. Nee, dit was immers jou keuse en omdat jy gekies het om mense nie te vergewe vir die onreg of wonde wat hulle in jou lewe veroorsaak het nie.

Kan ek jou ʼn baie persoonlike vraag vra?

Beleef jy êrens in jou lewe hierdie onverstaanbare dinge wat gebeur? Ja, so asof die hel en sy magte letterlik los is in jou lewe?

Miskien het jy al baie hieroor gebid, dat God dit moet verander, maar dit verander net glad nie!

Jy weet Hy kan hierdie dinge verander, want jy het al baie keer in jou eie lewe en in ander mense se lewens gesien hoe Hy dit kan verander. Maar nou wil dit nie verander in jou lewe nie. Dit wil net nie ophou nie! Ja, dit is amper asof God nie hoor wat jy bid nie!

Kan ek jou herinner aan wat ook nog verder aan die gebeur is omdat jy weier om iemand te vergewe?

Onthou wat Jesus vir ons daar in Mat. 6:12 gewys het wat gebeur as ons nie vergewe nie. Ja, dan word daardie hoop sondes wat jy gedoen het, net al hoër en hoër tussen jou en die Hemelse Vader!

Ja, en soos wat daardie hoop net hoër en hoër word, gee dit die hel geleentheid om jou net verder en verder te “kataza” en om chaos in jou lewe te veroorsaak!

Daarom wil ek jou weer ʼn keer vra: Het dit nie hoog tyd geword dat jy doelbewus voor God kies om die mense en selfs die groepe mense te vergewe wat jou so gewond en veronreg het nie?

Volgende keer gesels ons verder.

Maar as jy nie langer wil wag nie en wil begin om mense te vergewe wat ons verontreg of verwond het, hier is die skakel na 'n video op YOUTUBE waar ek in een sessie verduidelik wat Bybelse vergifnis werklik behels en hoe jy mense vir eens en vir altyd kan vergewe.

https://youtu.be/ITKgew8QYo4?si=0NTe8_YNiw3aY9v4 )