Hoe vergewe ek mense sodat ek hulle nooit weer hoef te vergewe nie? (Deel 6)

Kan ek jou net vinnig weer herinner aan wat ons in die lig van Jesus se woorde daar in Mat. 18:21 tot 35, ontdek het as ons nie ander en onsself vergewe nie.

God gaan vir die “torturers”, of folteraars, of martelaars, ruimte in ons lewe maak wat die hel in ons lewe gaan laat losbars. En ja, dit gaan reeds hier op aarde gebeur!

Die volgende vraag is dan: Is dit regtig moontlik om iemand heeltemal te vergewe? Om hulle eenkeer te vergewe en nooit weer daarna vir dieselfde ding te hoef vergewe nie. (Behalwe as hulle jou weer wond of verontreg.)

Uit Jesus se woorde daar in Mat. 18:21 tot 35, ontdek ons dat daar krag is daarin om te vergewe, want dan kan genesing plaasvind in ons lewe.

Kom ek wys vir jou wat ek ontdek het oor hoe lyk vergifnis wat hou. Ek noem dit sommer: Die 5 voorwaardes vir vergifnis wat hou.

Die eerste voorwaarde vind ons in Mat. 18:35: Maak jou hart oop om gereed te wees om te vergewe.

As jy gewond is, bou jy mure om jou hart. So probeer jy jouself beskerm teen verdere seermaak.

Die woord in die Grieks vir vergewe in hierdie vers, dui aan dat om te vergewe ʼn aktiewe keuse is, op ʼn spesifieke tyd en plek. Dit is iets wat ons eenmaal in ʼn spesifieke geval doen en dan is dit klaar en afgehandel. Dit is nie iets wat ons dus oor en oor en oor hoef te doen nie.

Maar daarvoor moet ons hart oop wees. Dit is ʼn keuse. Enigeen kan dit doen, ter enige tyd. Maar dit is en bly ʼn keuse. As jy nie jou hart oopmaak nie, kan jy nie vergewe nie.

Daarom is die tweede voorwaarde vir vergifnis wat gaan hou, dat ons moet kies om met ander oë na so iemand te kyk wat ons moet vergewe. Mat. 18:27,33 praat hieroor. In hierdie verse vind ons die Griekse woord, splanchnisto, wat beteken om jammer te kry (in Engels, “extend compassion”). Om dus werklik iemand te kan vergewe, moet ek ʼn doelbewuste keuse maak om daardie persoon genadig te wees.

Dit gebeur in jou hart. As jy met hierdie oë na iemand kyk, oor hulle dink en dink aan die pad wat hulle self tot hier gestap het, wat hulle self gely en ervaar het, gebeur daar iets in jou eie hart teenoor hulle, en verander jou hart teenoor hulle.

So lees ons in hierdie gedeelte hoe toe hierdie man op sy knieë gaan en smeek, hierdie baas se hart daardeur aangeraak is.

Maar dit gebeur nie altyd so nie. Soms gebeur dit ook omdat jy kies dat dit moet gebeur en nie omdat hulle om genade kom smeek het en kom vra het dat jy hulle moet vergewe nie.

So moet ek en jy soms kies om mense iets te gee wat jy tot nou toe nie wou gee nie. Ja, jy moet kies om hulle genadig te wees en genade aan hulle te gee, om hulle jammer te kry. (“Compassion” in Engels.) Om simpatie vir hulle te hê.

Maar hoe doen ons dit?

Jy gaan sit as’t ware op hulle stoel en klim in hulle skoene om dinge van hulle kant af te sien.

Miskien het hulle opgetree as gevolg van ʼn wond in hulle eie hart. Of miskien tree hulle so op as gevolg van medikasie wat hulle gebruik, of as gevolg van ʼn tekort. Of miskien is hy of sy so onder druk dat hulle oorreageer in ʼn poging om net te probeer oorleef!

Kompassie is om te kies om te sê: Ek weet nie hoekom jy so opgetree het nie. Maar ek kies om jou jammer te kry en om jou genadig te wees. (Dit maak ons hart sag teenoor mense!)

Of miskien het ek, onbewus, ʼn ou wond in jou lewe, raak geslaan of oopgemaak deur iets wat ek gesê of gedoen het.

Maar wat ook al die geval is, ek kies hier om genadig te wees, “compassionate” te wees, teenoor iemand wat my seergemaak of verontreg het.

Volgende keer gesels ons oor die volgende stappe vir vergifnis wat hou.

Maar as jy nie langer wil wag nie en wil begin om mense te vergewe wat ons verontreg of verwond het, hier is die skakel na 'n video op YOUTUBE waar ek in een sessie verduidelik wat Bybelse vergifnis werklik behels en hoe jy mense vir eens en vir altyd kan vergewe.

https://youtu.be/ITKgew8QYo4?si=0NTe8_YNiw3aY9v4 )